Vars-uit-die-boord Vyekoek

Ek het ‘n oor-die-berg buurtannie wat my gereeld bederf met lekkertes uit haar tuin en haar kombuis. Sy is ‘n vasvatter Boesmanland tannie wat dadelik haar huis vir my oopgegooi het toe ek as onsekere boervroutjie voet aan wal gesit het op Namies in 2019. Sy het 3 pragtige dogters van haar eie, wat almal elders loop nesskrop het. Sy het vir my gesê “Hier in die Boesmanland sal jy vreeslik alleenkry as jy nie jou huis – en hart – vir ander oopgooi nie”

Sy stuur vir my stap vir stap foto’s van hoe om ‘n rolrib te maak. 15 minute lange stemboodskappe oor hoe om die perfekte vrugtekoeke te bak – sy bied tot aan dat ek haar panne kan leen! Sy leer my kosbare waarhede uit hierdie wêreld en vertel graag staaltjies van vervloeë dae. Hierdie week was ek so bevoorreg om aan die ontvangkant te wees van ‘n pluksel vars vye uit haar boord.

Wonderlike voordele van vye:

  • ‘n Halwe koppie vye bevat dieselfde hoeveelheid kalsium as ‘n halwe koppie melk
  • Dit bevat meer vesel as pruime
  • Vye verlaag cholesterol & bloedsuikervlakke
  • Dit verbeter jou kardiovaskulêre gesondheid en verhoog energie en stamina
  • Vye kan bydra tot die voorkoming van kolon en borskanker
  • Dit bevat ‘n aminosuur wat die liggaam help met die produksie van melatonin (‘n hormoon wat jou lekkerder laat slaap!)
  • Vye kan help in die natuurlike behandeling van anemia (bloedarmoede), asma asook hipertensie

Ek het eenkeer na ‘n program van Nataniël gekyk waarin hy dit so mooi verwoord het: “Die slaai is so vars dit voel jy huppel deur die tuin van Eden terwyl jy dit geniet” Hierdie koek het dieselfde effek. Jy proe die Boesmanland son in die vars vye!

My wens vir jou is ‘n omgee buurvrou soos my oor-die-bult tannie! Iemand wat jou hart ken en deel in jou drome. Iemand wat omgee dieper as wat die oog kan sien.

Met liefde uit ‘n baie warm Boesmanland xxx

Leave a Comment

You must be logged in to post a comment.