
Alles in die lewe gebeur in seisoene. Vader het hierdie ritmes geskep sodat ons as mens kan groei. Elke seisoen hou sy eie bitter & soet. Elke seisoen is so perfek in Vader se tyd en se wil.
Boesmanland Langtafel was my platvorm waar ek my hart kon deel met elkeen van julle tydens my eerste paar jaar in die huwelik (& in my eie plaaskombuis). Ek kon kosmaak, kos gesels, saam aansit aan my klein kombuistafel.
Tyd staan egter vir niemand stil nie – en so ook nie vir my en my gesin hier in die platteland nie. ‘n Nuwe seisoen het aangebreek, ‘n seisoen waarin ma-wees my deurdrenk soos die oggendson my plaaskombuis. ‘n Seisoen van eenvoud en gestroop wees. ‘n Seisoen vol kinderlike bewondering.
Daarom sal my Boesmanland Langtafel blog nou Seisoenaal heet. Gepas. Vir nou, maar ook vir alle seisoene wat kom. My ou resepte sal stelselmatig weer hier verskyn omdat daar so baie navraag vir dit was nadat ek die blog gesluit het.
Seisoenaal sal ‘n dagboek van die mooi en eenvoud van ons lewe in die platteland wees. Mag hierdie skrywes jou ook seen in die seisoen wat jy is.