Malva Poeding met ‘n twist

As ek ‘n lys moet maak van my 10 gunsteling Suid-Afrikaanse kosse sal Malva poeding ‘n ere plek hê. 

Dit laat my terugdink aan Sendingbasaar in Nanabees se stoor.  Dit was ‘n jaarlikse gebeurtenis op ons kalender:  Al die boere en werkers van die omgewing het bymekaar gekom by Tannie Leigh en oom Frances Visagie se plaas, Nanabees, en dan is daar basaar gehou dat dit goed gaan! Ons sussies was verantwoordelik vir die Tombola tafel.  Ons het vir weke pakkies toegedraai en nommertjies geknip! Die nagereg tafel was altyd neffens die tombola tafel. En wat ‘n lekkerte was dit nie as kind om op die voersakke te kon rondspeel en pudding te eet vir al 3 maaltye van daai dag nie.  Ons ouers was hard aan die braai en borde kos skep en dus salig onbewus van ons doen en late.

Dit herinner my ook aan kerkbasaar op Kakamas.  Ek onthou hoe van die basaar gangers al onder openingsgebed gebondel het by die vleis asook vars gebak tafels.  (Met hul hande op hul gekose broodjie of pudding net om te verseker dat dit steeds aan hul behoort nadat Dominees AMEN geuiter het) 

Met my koskaste wat nou begin leeg raak soek ek toe ‘n vinniger & makliker weergawe van die gebakte Malva….en wat beter as een met ‘n alkoholiese twist (Vir die bevoorregdes wat op dag 32 nog ‘n koppie Amarula te spaar het!)  Ek sê altyd Amarula proe soos ‘n Afrika sonsak.  Die geur daarvan hou vir my ‘n belofte in van mooi, van goue tye wat voorlê en ook van ‘n land wat wild en ongerep lê.  En dus is hierdie vir my ‘n baie gepaste keuse met Vryheidsdag wat gister regoor Suid-Afrika gevier is.

Wanneer jy hierdie nagereg eet moet jy dink aan al die redes hoekom ons bevoorreg is om in Suid-Afrika te bly. Laat die soet vir ‘n oomblik insink.

Ons land is op sy knieë, en dit is nou ons, die inwoners van Suid-Afrika, se plig om saam te staan en weer ons land te laat opstaan!

Met liefde uit ‘n koue Boesmanland xxx

Leave a Comment

You must be logged in to post a comment.