Tuisgemaakte Pasta

My ma was baie lief vir pasta. In haar Huiskos Resepteboek het sy ‘n Rykmanspasta met sampioene en spek in. Spek was nie iets waarmee ons groot geraak het nie – dit was ‘n luuksheid. Feta was “kaas wat in water gedryf het” en iets wat ons verseker ook nie geken het nie! En al room wat ek geken het was die room wat ons elke oggend van die koei se melk afgeskep het wanneer my pa met die melkemmer spat-spat huistoe kom stap het.

Die afgelope naweek het ons weer op Makkiesplaas gaan kuier. My grootwordplaas. My heimat. Elke skadu, elke reuk, elke klank is deursypel met net die mooiste herinneringe. Ek sit op die stoep en slaan hoendervleis uit wanneer ek die windpomp by die ou swemdam hoor kraak. Die krip oppad begrafplaas toe se water ruik nog net dieselfde. Die koolstoof staan en wag geduldig vir die winter in die agterkamer en die spens rakke is steeds vol gebottel. Die reuk van moerkoffie maak my wakker voor dagbreek en die die houtvloer kraak op presies dieselfde plekke as 10 jaar gelede.

En die een gedagte wat onophoudelik by my opkom is dat ek tog net nooit wil vergeet waar ek vandaan kom nie. Dat my grootwordplek altyd saam met my sal gaan waarookal hierdie lewe my vat.

Terug by my ma se gunsteling: Pasta. Ek het nou tuisgemaakte pasta leer maak. So eenvoudig. So lekker. En jy bedien dit met watookal in jou kombuis en tuin beskikbaar is! En wanneer jy dit eet dan onthou jy hoe eenvoudig dit eens was.

Mag jy altyd onthou waarvandaan jy kom. Mag jou grootwordjare se mooi weer afspeel in jou kop soos jou voete die bekende grond betree. Mag die herinneringe jou tuis laat voel.

Mag jou onthou altyd mooi wees.

Met liefde uit ‘n lekker nat Boesmanland xxx

1 Comment

  1. Anna Lubbe on 18 February 2022 at 1:07 am

    Hi Marli
    Nie vir skoonsus geken nie
    So lekker om haar te leer ken op al hierdie gesprekke
    Ek raak letterlik gehiptonise met woorde soos koolstoof en windpomp Ek kan myself vir n paar dae nie kry nie Love it Anna pop



Leave a Comment

You must be logged in to post a comment.