Kleintyd Gunstelinge
As ek terugdink aan my kinderjare is daar ‘n paar dinge wat uitstaan. Ons het die voorreg gehad om kaalvoet op die Boesmanlandsevlaktes met draadkarre rond te hardloop, Gert van die buurplaas het vir my, my heel eerste blikkitaar met ‘n blou en wit BP olieblik gemaak en my heel eerste lappop, met die naam van Lilly, het my pa vir my by Kakamas se NG Kerk basaar gekoop.
Dan is daar my gunsteling eetgoed. Marshmallow en Rice Crispie blokkies, Marmite Wieletjies, beskuitjie fudge en Timbaaltjies. Ons is nie seker of hierdie die amptelike naam is en of dit net een van my ma se nuutskeppings was nie, maar hierdie ongelooflike krakerige lekkerte is iets wat almal moet probeer! Ek raak kinderlik opgewonde oor al hierdie eetgoed, dis asof ek weer die vryheid en uitgelatenheid van kindwees kan proe.
Ek gesels verlede week met ‘n vroutjie oor haar kleintyd gunstelinge. Sy raak liries oor fudge en hoe haar ma dit altyd vir haar in hul mikrogolf gemaak het. Sy vertel ook oor haar ma se gebakte melkterte en hoe hulle (nou alreeds volwassenes met hul eie kinders) verlede week nog familie rusie gehad het omdat haar boetie die hele melktert opgeëet het wat vir hulle almal bedoel was.
Ek deel vandag hierdie resep met julle met die hoop dat dit dieselfde wonderlike onthou sal terugbring as wat dit in my lewe gebring het!
Die realiteit van COVID 19 is besig om te kom nesskop in my kop en my lewe. My wens is dat jy jou oë kan toemaak en vir ‘n wyle weer die sonskyn van kindwees kan ervaar. Dat jy kan proe en weet dat die lewe goed is…ten spyte van.
Mag seën jou volg waarookal jy gaan.
xxx Met liefde uit die Boesmanland
2 Comments
Leave a Comment
You must be logged in to post a comment.
Baie besonders
Ek glo dit smaak net so lekker soos wat dit mooi lyk
Ai hoe wens ek nou ek kon daardie lappop en die blik kitaar sien dit moet baie
oulik wees vir n klein dogtertjie
Tannie Annapop, hoe lekker om van tannie te hoor! Dankie dat tannie saamlees. Pappa vertel graag van die balle wat ouma gemaak het vir hulle met kersfees? Ek is seker tannie hul het ook baie spesiale, tuisgemaakte kinderspeelgoed gehad