Botterskorsie Gnocchi
Die Boesmanland is bekend vir sy Augustus winde. Dit waai dat die wêreld wasig om jou word- genoeg om enige huisvrou stapelgek te maak. Die stof lê sentimeters diep op jou vensterbanke (al het jy vanoggend oral afgestof), die wind fluit om die hoeke van die huis en jy waag dit nie om ‘n deur of venster oop te gooi om die bietjie namiddag son wat daar is in te nooi nie.
My menswees voel somber.
Met die koms van die naweek moes ek dus iets doen om die gemoedere te lig. Daar is iets nostalgies aan die Afrifranse Jantjie – ek het dit kliphard gespeel en ‘n oomblik van totale oorgawe ervaar. ‘n Oomblik waar ek vergeet het van die wind, van droogte, van Covid, van politiek. Ek het vergeet wie ek is en waarheen ek oppad is. En vir ‘n oomblik kon ek net WEES.
In hierdie oomblik van losbandigheid het ek toe sommer ook waaghalsig geraak en ‘n resep uitprobeer waarvan ek nog net op televisie gehoor het: Botterskorsie Gnocchi met ‘n Napolitaanse sous. Ek deel graag my aangepaste resep met julle.
Die geheime vir sagte, smelt-in-die-mond Gnocchi
- Moenie ekstra water byvoeg wanneer jy jou Botterskorsie sag kook nie. As jy ekstra water byvoeg gaan dit later te veel meel absorbeer en ‘n digte Gnocchi tot gevolg hê.
- Maak die Botterskorsie goed fyn en bewerk dit lekker met die vurk. Hoe meer lug jy ingewerk kry hoe sagter sal jou eindproduk wees.
- Wanneer jy die meel, eier en botterskorsie meng moet jy so min as moontlik roer. Hoe meer jy meng hoe meer gluten drade ontwikkel – hoe taaier is jou Gnocchi. Roer net totdat alles deurgemeng is.
- Werk vinnig wanneer jy die deeg werk en sny. Hoe vinniger die Gnocchi in kookwater gedompel en gaargemaak word hoe beter!
Mag jy hierdie week uitbundigheid beleef. Mag jy vir ‘n oomblik die wêreld om jou stil maak en net luister met jou hart.
Met liefde uit die Boesmanland xxx
1 Comment
Leave a Comment
You must be logged in to post a comment.
Marli Jy beskryf die Boesmanlandse winde so asof ek dit hier in die verre Nieu Seeland beleef. Ek het leer “gnocci ” kook by The Eastern Institute of Technology hier in Napier op die Noord Eiland van NZ waar ons woon. Dis egter interessant om botterskorsie te gebruik, iets waarvoor ek ook baie lief is. Parmesaan kaas het ek leer ken aan die begin van die jaar toe ons die Keto dieet gedoen het, n harde kaas baie duur maar vreeslik smaaklik. Wat ek ervaar van hier kook en daar kook is ek het baie geleer oor produkte waarvan ek niks geweet het nie. Napolitaanse sous glo my dis die heel eerste keer dat ek daarvan leer, behoort n treffer te wees. Liefde vanuit die verre NZ