Lam Pitas met Tzatziki & Microgreens
Ek het al in ‘n vorige blog vertel van ons Vrydagaand spyskaart as ons 3 sussies na ‘n lang koshuisweek vir die eerste keer weer die Boesmanland se lug inasem. My ma wat op die stoep staan met haar arms wydgesprei om ons by die huis te verwelkom. Dan moerkoffie en koshuisnuus opvang en vanaand kitskos wat my ma voorberei in haar piepklein plaaskombuis. My ma se gunsteling Vrydagaand “kitskos” was Pita brode. Sy is dus my inspirasie agter die resep wat ek hierdie week deel.
Vir Augustus is my Langtafel tema “Local is lekker”. Ek wil eer gee aan die kleinboere en entrepreneurs wat elke dag hard werk om vars produkte op ons tafels te sit. Een van hierdie entrepreneurs is Ananda van Heerden van New Life Microgreens in Stellenbosch. Dis ‘n vars en nuwe konsep wat die plaas na elke tafel bring – of jy in die hartjie van die stad of in ‘n afgeleë plek soos Pofadder bly. Jy kan op hul webtuiste saad bestel en dan jou eie Microgreens groei binne 10 dae. Dit is pragtige tafelversierings, maar gee na 10 dae ook lieflike geur aan kos. Van tuin tot tafel!
Mag jy hierdie week met nuwe moed aanpak. Mag jy ‘n vars uitkyk op jou situasie hê. Mag jy elke dag die vreugde van groei en nuwe lewe ervaar!
Met liefde uit ‘n lekker koel Boesmanland xxx