Beskuit Nostalgie
Ons het grootgeword met boerbeskuit, mosbeskuit, karringmelkbeskuit en net so af en toe as ‘n bederf gesondheidsbeskuit. My pa het soggens vroeg opgestaan en vir ons moerkoffie gemaak. Soos ons kinders dan een-een ontwaak het, het daar moerkoffie en beskuit vir ons gewag in die kombuis.
Later jare het my pa ons begin bederf met pappa koffie (dis ‘n kombinasie tussen melkkoffie en moerkoffie) Elke oggend op die stoep terwyl die voëltjies in die groot peperboom ‘n nuwe dag aankondig. My pa stuur steeds party oggende vir ons stemboodskappe oor whatsapp terwyl hy sy oggend koffie op die stoep drink, die voëltjies uitbundig in die agtergrond.
My ma het nooit spoggerige bestanddele in haar kas gehad nie en van gluten en laktose vrye beskuit ken ons nie. Die tuisgemaakte karringmelk is ingespan. Ons het melkkoeie gehad en daar was altyd oordadig melk en tuisgemaakte melkprodukte beskikbaar.
So hierdie is ‘n heerlike resep uit my ma se versameling. Ek verkies gesondheidsbeskuit met baie sade en growwigheid, maar karringmelkbeskuit praat met my hart. Dis asof dit troos sonder dat die wêreld weet van jou hartseer. Dit vertel die storie van grootword op ‘n plaas, stadig en na aan die aarde. Eenvoudig.
Môreoggend sal daar ‘n haan wees wat sal kraai
en die nuwe dag aankondig
Met nederigheid sal die nuwe dag aanvaar word
soos ‘n nuwe jaar en ‘n nuwe lewe – Uit Karoo Pastoraal
Bak vir jou ‘n baksel beskuit, bêre dit in ouma se beskuitblik en haal dit elke oggend uit met die viering van ‘n nuwe dag. Dan is ons saam dankbaar vir gesondheid, hartsmense en God se nuwe genade elke oggend.
Met liefde uit die Boesmanland xxx