Koningskos

“Waarom ‘n Koning nie kaiings ken nie,

is moeilik te verklaar

Die rykes ken ook nie kaiings nie,

hulle kry net so swaar

Maar van brood alleen kan mens ook nie leef nie

Dis ‘n lewenswet

As jy nie het wat jy wil eet nie

Eet dan wat jy het!” – Fanus Rautenbach

In die ouertyd was voorrade hier in ons ou wêreld maar min en die oumense het geglo hulle moet alles van die skaap benut. Die skaapkop is vandag nog ‘n delikatesse, so ook die res van die afval. Skilpadjies, pofadder, boekiepens, vetderm en dan die skaapstert. Ek onthou hoe ek kleintyd altyd in die kruiwa by my pa gesit het terwyl hy donkie maak. Hy het dan vir my skaapsterte gebraai in die vlamme van die donkie vuur. Eers is die hare sorgvuldig afgebrand en dan goed verder afgeskraap. My pa het fyntjies die vel om die skaapstert afgesny en dan het ek gesmul aan die stukkie soetgebraaide vet wat agterbly! Ek kon skaapsterte eet dat dit blink sit – my ma moes altyd waarsku dat ek nou moet ophou, anders sal ek galsiek kry.

Lekker vet skaapsterte werk perfek vir kaiings uitbraai. Met die uitloop van die Lockdown tydperk het ek en Manlief vandag besluit om die laaste vet stert uit ons vrieskas te haal en geil te gaan!

Nou sny jy vir jou ‘n vasgebakte sny Boerbrood, jy smeer mildelik sagte vet en gooi dan kaiings bo-op. Dan sal selfs die nuus van nog ‘n verdere 14 dae inperking jou nie eers ontstel nie….

Met liefde uit die Boesmanland xxx

Leave a Comment

You must be logged in to post a comment.