Pasteis De Nata (Portugese Vla Tertjies)
My nooi is in ‘n nartjie, my ouma in kaneel,
daar’s iemand…iemand in anys, daar’s ‘n vrou in elke geur.
– Sproeireën, DJ Opperman
Melktert is trooskos. Dit was ‘n Vrydagmiddag bederf wanneer ons koshuiskinders op die plaas arriveer het na ‘n lang en honger week in die dorp. Melktert en moerkoffie. My ma het gehou van ‘n “Maklike Melktert” reseppie – sy’t nie die geduld gehad om ure lank deeg te staan en gooi om die perfekte skilferkors te kry nie, ek self skraap nog die moed bymekaar!
Vandag deel ek ‘n anderster soort melktert resep, dit is ‘n maklike Portugese Pasteis resep deur Wilhelmina Thirion Garção (Vir die wat nie weet nie, sy’s ook ‘n platteland kind wat in ons wêreld grootgeraak het) Haar woorde: “Hierdie tertjies is lelik, maar vrek hulle is lekker!”
Hierdie is nou ‘n maklike melktertjie wat vreeslik spoggerig vertoon! Bak hom gerus as die dominees kom vir huisbesoek.
Met liefde uit ‘n koue Boesmanland xxx