‘n Boere Bunny Chow

Kersfees 2019 was vir ons familie een vir die boeke. Ons was vir die eerste keer sedert 2011 die hele familie bymekaar op Makkiesplaas (Dit sluit nou alle aangetroudes sowel as kleinkinders in) 6 Kinders, 5 Gardes en 6 kleinkinders. Oupa en ouma was in hulle noppies oor hierdie voorreg om so iets te kon beleef. Vir ons kinderloses is dit nogal ‘n ervaring! Ons verdwyn so nou en dan stil-stil net om weer ons gedagtes georden te kry. Selfs Marietjie se klein Anmari het een middag stok siel alleen in die televisiekamer gesit en staar, toe ek haar vra of sy reg is, het sy baie volwasse geantwoord: “Ek soek net bietjie stilte tannie Marli” – sy’s nou 6 jaar oud.

Ons het maande voor Kersfees al whatsapp groepies gestig vir al die onderskeie komitees. Ek is die laaste paar Kersfeeste al op nagereg. Dan is Suné en Nasya op die versieringskomitee, Tieks spring in by die voorbereiding van koue vleise saam met Tannie Marinda. Hané voorsien slaaie en brood. Ana-Alicia doen voorgereg. Die kinders is verantwoordelik vir die vermaak (ek weet nie of julle ook kleintyd so lief was vir konsert hou soos ons klomp Nelletjies nie?) En die manne…wel hulle geniet die Kerskos en kuier!

Maar terug by die voorgereg. Ana en haar man Kyle woon al die laaste paar jaar in Durban en het ons klomp Boesmanlanders kultuur kom leer. Vir ons Kersfees voorgereg is daar Bunny Chows, met regte egte Durbanse kerrie. My pa wil benoud weet watse goed ‘n “Bunny Chow” dan is? Daar is tot ‘n opsie toe Ana met die mooiste klein Kerrie Broodjies verby kom: “Hot or not?”

Hulle bak die broodjies self en vul dit dan met die geurigste hoender wat ek al ooit geproe het. Vars koljander blare en tamatiesalsa om hierdie voorgereg af te rond.

Ek is in die hemel en probeer toe sommer daardie volgende week tuisgemaakte Boere Bunny Chows. Soos julle almal weet beskou ons Boesmanlandse boere hoender as groente, ek het dus ons Kersfees resep effe aangepas.

Nou vat jy jou varsgebakte broodjies, sny hulle koppe af, hol hulle uit en vul met jou kerrie lamsvleis. Sit ‘n lekker vars koljander blaar en ‘n bietjie vars opgekapte tamaties bo-op vir garnering.

Die is dalk nou nie ‘n resep wat my ma of ouma sou probeer nie, maar in hierdie moeilike tye dink ek dis noodsaaklik dat ons as Suid-Afrikaners onsself herinner waarom ons trots is op ons land. Soveel kulture, soveel diversiteit en wonderlike nuutskeppings wat daaruit voortspruit.

Met liefde uit die Boesmanland xxx

Leave a Comment

You must be logged in to post a comment.