Die Boesmanland se tradisionele gereg

My oupa was ‘n boer. My pa boer steeds op ons familie plaas, Makkiesplaas, in die hartjie van die Boesmanland. My man boer ook, nes sy pa en oupa. En as daar een ding is wat hierdie manne in my lewe almal in gemeen het, is dit dat hulle regte boerekos kan waardeer. Erfeniskos. Kos wat nie bederf word met kitsstappe of pakkies of boksies nie.

Met ons 21 dae tuisbly wat voorlê whatsapp ek my sussie baie opgewonde dat ek nou huisvrou gaan speel. Ek gaan kan kos kook vir middagete soos my ma dit altyd gedoen het. Ek gaan blouvroeg op ‘n Maandag oggend in die gang af trippel om te begin wasgoed was. Ek gaan tyd spandeer om die etenstafel om my man te vra “Hoe was jou dag?” en dan RERIG luister na sy antwoord. Ek gaan dinge doen soos my ma ons geleer het ‘n boervrou dit doen.

Dag 1 val ek weg met tradisionele Rys, vleis en aartappels. Hierdie is een van daardie resepte wat van generasie tot generasie oorgedra word sonder dat iemand dit neerskryf met presiese mates en instruksies. My Marietjie suster het dit egter vir ons neergeskryf, en alhoewel sy sê ons dit nooit sal kry soos my pa sin nie, is hierdie ‘n reseppie wat ek verseker ook aan my kinders sal oordra.

Dit is baie belangrik dat jy hierdie eenvoudig hou en nie al wat ‘n vreemde krui en bestanddeel is probeer bygooi nie. Dit is sout, peper, koljander en asyn – bestanddele wat ons almal in ons kaste het! My Marietjie sussie stuur ook ‘n baie streng boodskap om te sê ek moet my aartappels skil, sy weet die skil is die gesondste deel, maar met die skil proe die pot nie soos dit moet nie.

Dek jou tafel met jou mooiste breekgoed en linne. Sit ‘n pot met blomme (of dalk met droeë grassade as jy in die Boesmanland bly!) in die middel en vat hande met jou gesin. Dank die Here dat julle almal gesond is en dank Hom sommer ook vir ons stoere boere oumas wat basiese resepte soos Rys, vleis en aartappels vir ons kon uitdink!

Elke dag is ‘n gawe uit Sy hand, en ons sit in stille dankbaarheid oor Sy goedheid ten midde van die chaos om ons.

Met liefde uit die Boesmanland xxx

Leave a Comment

You must be logged in to post a comment.