‘n Laaste keer

Hierdie week het ek met meer as een persoon die gesprek gehad oor “Wat as vandag jou laaste dag is?” ‘n Vraag wat al effens holrug gery is, maar wat my hierdie week anderster laat dink het.

Die idee van “leef elke dag asof dit jou laaste is” is nogal vir my ‘n uitpuntende gedagte!

Maar hoe anders sou ons lewe nie gewees het as ons geweet het wanneer dit jou laaste keer is nie?  Hoe anders sou ek nie my ma gegroet het na ‘n lang week by die koshuis op 7 November 2008 as ek geweet het dis my laaste keer nie.  Hoe anders sou ek nie daardie laaste 30 minute aangewend het nie? Hoe anders sal ek nie my man groet in die oggend as ek weet vandag is die dag wat die son oor een van ons lewens sak nie.

Hoe anders sal ek nie optree teenoor my hartsmense (en vreemdelinge) as ek weet daar gaan nie nog ‘n geleentheid wees nie? Dalk sal ek vriendeliker wees met die boemelaar langs die pad. Dalk sal ek minder tyd op my foon spandeer en meer tyd diep in iemand se oë kyk om hul hart te hoor. Dalk sal ek minder doen maar meer teenwoordig wees. Dalk sal ek stilbly eerder as om ‘n opinie te lewer wat ander se gevoelens seermaak.

Vanoggend kry ons die vraag “Wie het gesê jy is gewaarborg die dag van more? Dalk is vandag werklik jou laaste – wie sal weet?”

Een ding weet ek verseker – as vandag my laaste is sal ek pampoenkoekies met karamelsous eet vir al drie maaltye. Bedien met ‘n lekker Boesmanland skaapboud!

Ek sluit my cliché blog af met ‘n pragtige gedig van Hester Heese, wat mens nogal laat dink…

Jy mag maar jou koffie slurp of in die piering gooi

Jy mag maar met vuil voete oor die wit mat loop

Jy mag jou naels byt

vals sing

Die badkamer omkrap

swak groente huistoe bring

die nat vloer opdroog met my waslap

Skakel maar die radio aan om ses in die more en luister hoe hulle brabbel

oor veevrektes

aartappelroes

inseminasie

Jy mag maar snags hard snork

oor koue voete brom

As jy net terug wil kom….

Mag jy hierdie week liefhê, dien, omgee & luister asof dit jou laaste is.

Met liefde uit my Boesmanland kombuis xxxx

3 Comments

  1. Anna Lubbe on 26 January 2021 at 7:27 pm

    Hi Ja ek hoor heel dikwels ………aag ek het nog baie tyd. Ek leef net een dag op n slag. As gaan slaap in die aand is die plek in so n toestand dat sou ek nie more nog hier wees nie die volgende mense nie mismoedig hoef te wees nie om my “mess” te kom opruim nie Ek vra vir my self elke dag, as dit vandag jou laaste dag is wat sal jy wil doen, Ek soek God se aangesig en vra Hom wat wil U he moet ek vandag doen, Ek het nie een dag n ongelukkige of onvervulde dag nie. Ja eendag sal jy wakker word en dood wees Die woorde van iemand wat ons geken het en ja ons het hom Maandag begrawe.
    Vir my ek is gereed Jesus gaan terug kom en in n oogwink sal almal uit die grafte opstaan en ons wat nog lewe sal verander 1 Kor 15 v 52 MAAR OM DAAROOR TE SIT EN TOP IS OM TOE TE LAAT DAT DIE VYAND VANDAG VAN JOU STEEL



  2. Minh Waldon on 10 February 2021 at 12:28 am

    Nice



  3. Marli Visser on 11 February 2021 at 10:33 am

    Tannie Annapop

    Kosbare kosbare lessie wat ek nou bevoorreg genoeg is om al op ‘n jong ouderdom by tannie te leer! Dankie vir die deel. Mag ek ook eendag op tannie se ouderdom opstaan en kan se ek het nie een dag ‘n ongelukkige / onvervulde dag nie!
    Baie liefde vir tannie daar in die verre xxx



Leave a Comment

You must be logged in to post a comment.