Gin & Tonic Kaaskoek

Koffietyd is vir my groot. As Hoërskool kind onthou ek dat ek naweke van elke koffietyd ‘n okasie gemaak het (Ons Nelle is kosmense en soek geleenthede om te kan eet!) Daar was altyd Plungerkoffie en dan ‘n koek, tert, Pavlova, skuinskoek, varsgebakte beskuit of enige ander soet resep waarop ek my hande kon lê.

Ek dink my liefde vir koffietyd het egter al op ‘n veel jonger ouderdom begin. Ek onthou as klein dogtertjie Wintervakansies op Makkiesplaas. My ma was baie lief vir bou. Aanbou, uitbrei, stoep toebou en dan weer oopbreek. My pa het later jare net eenvoudige dreine reg rondom die huis gebou om my ma in te perk met uitbreidingsmoontlikhede. Een van haar heel beste bouprojekte was toe sy aandring daarop dat Makkiesplaas se ou plaashuis ‘n sonkamer moet kry. Dis vandag nog die vriendelikste vertrek in die huis, met son instroom van buite en ‘n bedjie vir luilekker namiddae.

In hierdie sonkamer is daar ook ‘n klein koolstofie. My ma het altyd vertel hoe hulle in hul Oos-Kaapse skole hierdie stofies in die klaskamers gehad het vir bietjie ekstra hitte. Geen heater is so effektief soos hierdie klein stofie nie! Namiddae so rondom 5 uur het my pa kom stofie brandsteek vir die yskoue Boesmanlandse wintersaande.

In hierdie vertrek het ons dan ook Wintervakansie legkaart gebou, vingerbord gespeel en lang koffiekuiers gehad met RSG in die agtergrond. Ek onthou nog vir “Sê wie” met Nikkie van den Berg en selfs die boekvoorlesings en radio dramas. My ma was mal oor Wimbledon. Wintervakansies is ons DSTV dus aangeskakel en het ons namiddae om leer brei en hekel voor Wimbledon(My ma was ‘n kranige sportvrou – nie iets wat een van ons susters egter ge-erf het nie)

En met elke koffietyd is daar bederf. Tuisgemaakte koekies, my ma se karringmelkbeskuit (ek het op universiteit vir die heel eerste keer winkelbeskuit geproe!), skuinskoek, melktert en enige ander lekkertes waaraan jy kan dink! Kaaskoek was iets wat ons egter nie geken het nie, seker te luuks en te duur vir enige Boesmanlander van daardie tyd.

Vandag wens ek, ek kon my ma oornooi vir ‘n sonsit en moerkoffie kuier met kaaskoek. Gin & Tonic kaaskoek. Net om vir haar te wys dat die lewe soet is vir haar jongste hier in die Boesmanland. Dat ek ook my plekkie in die son gevind het.

Mag jy hierdie week ook die soet van die lewe ervaar. Mag jy proe en weet “God is goed en getrou” Nooi jou hartsmense oor en deel jou sonskynvreugdes met hulle. Later is dit die enigste onthou wat oorbly!

Met liefde uit my sonkamer in die Boesmanland xxx

1 Comment

  1. Anna Lubbe on 31 August 2020 at 12:48 am

    Hi Ja daardie kaaskoek is so mooi dit lyk of dit voorberei is vir n kompetisie Ek glo die smaak sal fantasties wees Ja ek het baie min geweet van Griet, Ons was salaristrekkers op Kuruman met slegs 3 weke verlof per jaar Dan is ons reguit na Kleinmond waar my skoonouers gewoon het. So by my familie het ek nooit arriveer nie, daarom is “kranige sportvrou” heeltemal vreemde woorde vir my as ek aan Griet dink. Sy sou egter baie trots gewees het op hierdie jongste dogter van haar se bekwaamhede daarvan is ek heeltemal oortuig



Leave a Comment

You must be logged in to post a comment.