Lamskerrie
Ek was nog nooit gaande oor Kerrie nie. Ek het altyd die vermoede gehad dat dit weens die oormaat Bobotie was wat ons in Huis Unitas (Kakamas se meisieskoshuis) gekry het. Ek het eers hierdie jaar tot die besef gekom dat dit selgs Bobotie is wat die probleem is. Die eier, die rosyntjies en die geel lagie wat bo-op gevorm het – ek ruik dit nog gemeng met die reuk van die politoer in ons eetsaal as ons na skool rasend honger in die ry moes staan en geduldig ons skepbeurt moes afwag.
Volgende jaar moet my middelsuster se oudste koshuis toe gaan vir haar eerste jaar op skool. My hart breek as ek daaraan dink. Ons al drie sussies was van graad 1 af al in die koshuis, ek weet waarlik nie hoe my ma dit reggekry het om sulke klein lyfies by daai hekke af te laai nie. Ek onthou hoe my pa altyd vertel het dat hulle die eerste aand of 2 by tannie Tertia in Kakamas oorgeslaap het, net sodat my ma kon seker maak ons is ok – ons was egter salig onbewus daarvan!
Later jare het koshuis rêrig lekker geraak. Ek onthou aande van “uitslip” net om op die koshuis se balkon te sit en koffie drink. Of op matrasse by die trappe afgly. Ek onthou ook hoe ons altyd in die snikhete somer ons matrasse in die studiesaal onder die verkoeler kon gooi na studietyd (dit was voor die tyd van ketels, yskaste en verkoelers in die kamers) Jy het al half 9 jou matras voor die studiesaal se deur gaan parkeer dat jy die beste plek met die meeste koelte kon kry sodra die deure oopswaai.
Ek onthou ook hoe ons kleintyd by Mnr. Lubbe en tannie Koerietjie gaan Bovril toastbroodjies eet het in die aande as die verlange huis toe te veel raak. Dan kon ons elkeen met ‘n broodjie en ‘n glas melk saam met Mnr Lubbe televisie kyk totdat dit ligte uit tyd was, ek besef vandag eers watse reuse opofferging dit vir hulle as koshuis ouers moes wees.
Die struggle van in die oggende opstaan as die klok lui, sukkel om hare vas te maak en perongeluk met slippers skool toe loop. Bybelstudie en “smile-a-while” worship liedjies voor studie en bok in ‘n hok speel op die groot grasperk na aandete. Ek kan nog vele blogs skryf oor die wonderlike maar ook moeilike tye van koshuiskind wees, ek vat hom volgende keer verder!
Vir nou deel ek graag met julle my lamskerrie resep, aangepas volgens dit wat ek in my plaaskombuis beskikbaar gehad het.
My wens vir jou hierdie week is dat die Here jou sal seën met goeie mense oor jou pad. Mag alle stoele om jou tafel vol wees en mag jou kombuis gevul word met mooi herinneringe, lekker lag en die geure van ‘n goeie, stadig gekookte lamskerrie!
Met liefde uit die Boesmanland xxx