Boesmanlandse Biltongsop
So paar weke terug het ek die voorreg gehad om vir die heel eerste keer saam met my skoonfamilie bees te slag. Beesslag op Makkiesplaas was altyd ‘n groot gebeurtenis.
Ons gesin is in verskillende kommitees opgedeel en elkeen het sy taak met oorgawe gedoen. My ma moes my pa help biltonge sny, sy was ook aan stuur van wors stop, speserye meng, en vele ander take. Die vleis en sult se maal en die ophang van alle droeëwors en Biltong was my pa se spesialiteit. My Sunê sussie was verantwoordelik om alle beentjies uit die sult mengsel te haal, alle vleis en wors pakkies te maak en die heel eerste wors in die pan te gooi sodra dit klaar gestop is. Marietjie se hande het vir niks verkeerd gestaan nie en sy het ook vinnig my ma se werk oorgeneem na 2008.
Ek…wel ek was nou nie juis die flukste vleiswerker wat jy kon kry nie. Ek het koffie gemaak en snacks aangedra van die huis af. Ek het ook help blokkies vleis sny, maar dit was gewoontlik van korte duur. Hier rondom middagete het ek stry opgetel met die sussies en dan plotseling aangekondig dat ek nou huis toe gaan. Die slagtery was steeds my hoogtepunt van die winter vakansie!
My pa vertel altyd hoe hulle as kinders so opgewonde was om die Biltong te proe dat hulle dit aan hul fiets handles vasgemaak het en heen en weer op die werf gery het om dit droog te kry. Nodeloos om te sê dat die Biltong meeste van die tyd sommer so nat-nat geëet is!
Hierdie jaar was ek ook kinderlik opgewonde oor ons eie Biltong en kon nie wag om weer my Biltong en Bloukaas resep af te stof nie. Hy’s ryk en romerig en ‘n ongelooflike luukse in ons huis – ek deel graag met julle!
Ek bedien hierdie sop saam met my maklike ciabatta as die Boesmanland sy koue kombers aantrek. Dan kuier ons met lang glase rooiwyn in ons plaaskombuis en vergeet vir ‘n wyle van die droogte.
When you love and laugh abundantly you live a beautiful life…
Met liefde uit die Boesmanland xxx
2 Comments
Leave a Comment
You must be logged in to post a comment.
Geniet dit om Langtafel stories te lees en ook heerlike resepte te kry
Hi Susan, baie dankie vir die mooi woorde! Ek waardeer dit ongelooflik baie dat julle saam lees xxx