Slagdag in die Boesmanland
Vandag se Nostalgie resep is bietjie anders en val dalk nou nie in almal se smaak nie. Maar as jy in onse wêreld grootgeraak het, het jy al van kleintyd af geleer “Ons gooi niks weg nie.” Selfs met slagdag in die Boesmanland word elke krieseltjie van die skaap bewerk. Ek ken van vaalafval en kerrie afval, ek ken van Pofaddertjies en Skilpadjies – ek weet wat werklik lekker is in hierdie lewe!
Toe ek jonk was, was ek nie te gaande oor die smaak van hart, lewer en niertjies nie. In my universiteitsdae het ek egter die huis SO verlang dat ek lief geraak het vir alles eg aan ons omgewing – selfs die skaap se harslag. Jy leer hom vinnig bewerk en gaarmaak na jou smaak. Ek het hierdie week nog die tannie agter die bult ‘n boodskap gestuur om te vra: ” Wat is die beste manier om ‘n netjiese skilpadjie te maak?” Haar antwoord? “As hy gaar is eet almal so lekker dat niemand eers sien hoe hy lyk nie!”
My man het gisteraand vir ons die harslag skoongemaak en ‘n feesmaal voorberei: Niertjies, lewer en skaaphart in suursous op boerbrood. En terwyl die res van die wêreld mal raak oor die eet van rou eiers, gaan ons maar rustig voort en hou ons by dit wat ons die beste ken – Regte Boesmanlandse skaapvleis lekkertes. Ek deel graag sy resep met julle.
Bedien warm. Skep dit op ‘n skaapwagtersny boerbrood en geniet!
Met liefde uit die Boesmanland xxx