Skuinskoek

As jy al ooit iets eg aan die Boesmanland wou eet, sal dit ‘n skuinskoek wees. Ek lees vandag dat tradisioneel is hierdie koekies gebak in die voortrekker jare vir padkos op die langpad, want hulle raak nie oud nie en muf ook nie. Hulle word net hard – en is dan nog lekkerder as jy hom in moerkoffie doop!

My pa is ‘n man wat hou van iets te peusel. Vandat ek kan onthou was daar altyd ietsie te ete in sy blou Scania plaasbakkie, in sy lessenaar se regterkantste, boonste laai en ook in sy winkel waar die plaaswerkers hulle proviand kom aanvul het. In die winkel was dit Niekerbols, daai swartes wat verkleur het na alle kleure van die reënboog soos hy kleiner gesuie word. In die lessenaar se laai was dit vrugterolle of swart Wilson toffies (Ek was nie mal oor een van die twee nie!) En in die blou bakkie was dit van daai regte groen chappies met die “Het jy geweet?” feite in die papiertjie en ‘n gedroogde nartjieskil voor op sy dashboard waaraan hy begin kou het as hy moeg raak. En as jy gelukkig was kon jy êrens tussen die sitplekke ‘n ou skuinskoek uitgrawe. As jy hom byt het jou tande merke so wit gesit. Oeg en wat ‘n lekkerte was dit nie! En dink my pa het somtyds vir ons hierdie lekkernye weggesteek net om seker te maak ons mis nie uit op veldtrippies saam met hom nie.

Vandag het ek my knieskottel uitgehaal om bruinlyf skuinskoek te bak, met bietjie vet ingeknie net om dit ekstra lekker te maak! Ek het al telling verloor met waar presies ons staan in Lockdown, maar ek is op die punt om alle goeie voornemens oorboord te gooi en my bure oor te nooi vir ‘n koffie en ‘n warm skuinskoek.

” Wie het nou kon dink dat ‘n ou klein, soet, anysgegeurde koekie- ‘n kruis tussen ‘n oliebol en ‘n mosbolletjie – ‘n nuwe wêreld vir my sou oopmaak?” – Gesê deur Tannie Theresa de Vries, Brandvlei

Mag hierdie Boesmanlandse bederf vir jou ook nuwe wêrelde oopmaak en moed gee vir die laaste week van ingeperk wees!

Met liefde uit die Boesmanland xxx

2 Comments

  1. Jaco Gouws on 25 April 2020 at 6:13 pm

    Waar is Boesmanland? Kakemas, Pofadder, Onseepkans?



  2. Marli Visser on 28 April 2020 at 6:40 am

    More Jaco

    Yes die Boesmanland is eintlik so wyd soos die Here se genade en almal se opinies verskil oor waar sy eintlike grense nou lê. Maar as jy op ‘n kaart kyk sal ek sê is die Boesmanland hoofsaaklik die groot oop stuk niks tussen Kakamas, Kenhardt, Brandvlei, Loeriesfontein en Pofadder. Ons stuk hemel op aarde!



Leave a Comment

You must be logged in to post a comment.