‘n Boesmanlandse Kersfees

Kersfees is ‘n hoogtepunt op my jaarlikse kalender – nie oor Kersvader of geskenke nie (ons gee al die laaste paar jaar nie meer vir mekaar geskenke nie), maar oor die samesyn en die stilword. Die besef dat Sy enigste Seun aarde toe gestuur is om die pad vir ons te stap – die pad van swaarkry en seerkry. Die pad van sondig en dan vergifnis, weer en weer. Smorrens staan ons vars en nuut op, net om vanaand weer ons sondige menswees by Sy voete te lê en te smeek dat Hy ons nederig sal maak soos hulle wat naby die aarde staan.

Kersfees is ‘n tyd van introspeksie oor die jaar wat verby is en droom oor die nuwe jaar wat soos ‘n goue sonsopkoms voorlê.

Ons almal se wense vir die nuwe jaar is “dat dit tog net ‘n beter jaar as 2020 sal wees” ‘n Vriendin sê onlangs vir my so kosbare ding: “As jy hierdie Kersfees almal om jou kerstafel het wat laasjaar daar was, was 2020 net goed vir jou en moet jy werklik dankbaar wees” Dit laat mens nogal dink…

Hierdie jaar is my gebed vir ‘n nat Kersfees. Ons kry reënberigte uit Suid-Wes en ek ruik al van vroeg oggend af die klam in die grond. In my stilligheid voel ek effe skuldig – wat het ons reg gedoen dat die Here ons hierdie Kersfees sal seën met ‘n nat aarde. Verdien ons dit regtig? Hoe goed is ons Here se genade.

Ek deel graag ‘n lekker vlegbrood resep -bak hom vir jou Kerstafel en nooi dan al jou hartsmense om saam om jou tafel te kom brood breek.

My wense vir jou is dat jy werklik sal kan stil raak hierdie feesseisoen. Dat jy elkeen om jou Kerstafel in die oë sal kan kyk en hul harte sal kan hoor. Maak tyd vir jouself, maak tyd vir die mense om jou. Bêre tegnologie vir ‘n wyle weg en laat jouself toe om net in die oomblik te leef.

Jy het soveel meer sodra jy minder nodig het… – Idees Joernaal Somer 2021

Met liefde uit ‘n klam Boesmanland xxx

1 Comment

  1. Anika Mac Arthur on 24 December 2020 at 9:43 pm

    Hi Marli!

    Jy skryf só mooi en het my skoon in trane oor my sondige, selfgesentreerde leefstyl. Dankie vir die herinnering om God se teenwoordigheid om my te sien in alles wat ek doen en sê en dink. Dankie ook vir jou mooi feestyd wense!

    Mag julle ook n geseënde tyd hê en mag God julle (ons) genadig wees en tóg julle pragtige Boesmanland met reën seën!

    Ek hoop 2021 lewer n resepte boek 😉!

    Asb moet nooit ophou skryf nie



Leave a Comment

You must be logged in to post a comment.