Pap se storie
Die storie van mieliepap het begin toe ons voorouers met Ossewaens oor die Drakensberge getrek het. Mieliemeel is deur Portugese aangekoop en gebring na Afrika. Dit was stapelvoesel en is vandag nogsteeds in die meeste dele van Suidelike Afrika weens die rede dat dit goedkoop is, baie maklik gestoor kan word en vinnig is om voor te berei.
Ons het in die koshuis grootgeraak met slap mieliepap, oats pap en as jy werklik die dag gelukkig was kon jy dalk Maltabella pap kry vir ontbyt. Ek eet graag my mieliepap met botter, suiker en bietjie melk. My pa verkies dit met kaiings (Die storie loop mos dat Boesmanlanders vleis eet vir 3 maaltye ‘n dag!) In my matriekjaar gaan kuier ons vir die eerste keer by Ma Marinda se ouers in Zimbabwe waar ons pap en sheba eet vir aandete. In my studentejare het ek vir die heel eerste keer kennis gemaak met geel mieliepap (ook Polenta genoem) op oupa en ouma se plaas net buite Swartruggens.
Nodeloos om te sê toe Ethel, die Zimbabawier by my heel eerste werk, my nooi vir ‘n middagete van pap, opkookvleis en groente het ek dit verseker nie van die hand gewys nie. Ek het besef pap is amper soos brood…dit bring mense bymekaar en kan vir ontbyt, middagete of aandete geniet word. Die manier waarop jy dit gaarmaak sê iets van jou herkoms en jou grootword tafel.
Toe trou ek met ‘n Boesmanlander wat glad nie pap eet nie. Ek het dit al op al wat ‘n manier is probeer opdis, sy reaksie bly altyd dieselfde: “Liefie, die geure is ongelooflik en dis rêrig ‘n oulike idee, maar jy weet mos ek hou eintlik nie van pap nie”
Die week kry ek die idee van ‘n Biltong paptert – ek meen watter man sal dit kan weerstaan! Dis ryk en romerig en ideaal as bykos vir enige braai. My man se terugvoer was egter steeds dieselfde, al het hy mildelik saamgeëet aan hierdie nuutste skepping uit my plaaskombuis.
Steek sommer vanaand ‘n vuurtjie aan en vier jou herkoms! Vier wie jy is, waarvandaan jy kom en wat jou gemaak het wie jy vandag is. Deel jou stories en geskiedenis met jou kiders, want so kweek ons ‘n nasie van trots.
Baie liefde uit die Boesmanland xxx
1 Comment
Leave a Comment
You must be logged in to post a comment.
Daardie Biltong en Feta paptert sal die beste Kersete ter wereld klop.Ja ek, n gebore Suid Afrikaner, wat nou ook uit die hartjie van die Boesmanland kom, en reeds al 12 jaar oorsee woon, stem heelhartig saam dat die sogenaamde vinnige bord “spierwit” mieliepap n ete bied wat min ander borde kos sal klop. Ons eet graag ” wit”. mieliepap met boerewors Ons wil sekerlik wit mieliepap he want daar was n tyd wat ons net geel mieliepap gekry het en dit was beslis gladnie lekker nie.. Die boerewors is deur my man hier in Nieu Seeland gemaak, en ons glo gladnie aan “jakkals prys sy eie stert nie” maar so waar as vet hierdie boerewors saam met die mieliepap is vinger afeet lekker.