Taai Hoendervlerkies

Ek en my man het in 2015 die voorreg gehad om Thailand toe te gaan. My pa was baie op sy senuwees oor sy avontuurlustige jongste. “Marli-bok, pa was nog nie eers op Pella nie. Hoekom toer julle nie maar net in ons eie omgewing nie?” Ek het op die ou einde teen my pa en sussies se wil op die groot vliegtuig geklim die vreemde in!

Vir ‘n Boesmanlander was die strate van Phuket ‘n reuse ontnugtering, ‘n stad wat nooit slaap nie. Die mense is anders, die manier van doen is anders en die kos is BAIE anders.

Ons het egter totaal verlief geraak op die tradisionele Thaise geregte en het tot ‘n kookklas by Pums cooking school in Phi Phi Island bygewoon. Daar het ek vir die heel eerste keer in my lewe met vissous, oestersous, tapioca meel en Chainese Kale te doen gekry. Die Phad Thai en Gai Phad Med Mamuang was twee van ons gunstelinge!

Vanoggend verlang ek toe sommer terug na my werdervaringe in die vreemde. Ek kry al my Thaise bestanddele (minder volksvreemd as by Pums Cooking School) uit my kas en maak lekker taai hoender vlerkies met roerbraai (alle groentes uit my plaastuin). Ons het hierdie vlerkies ook al by skoonma geëet vir ‘n familie ete, hy proe egter nooit dieselfde nie omdat ons die resepte aanpas volgens wat in ons kaste en tuin beskikbaar is. In die Boesmanland kan jy nie kieskeurig wees nie!

Dis somtyds nodig vir selfs ons plattelanders om ons vlerke te sprei en bietjie ander kulture te ervaar. Probeer als en behou die goeie, sou my pa nou weer gesê het!

Met liefde uit die Boesmanland xxx

Leave a Comment

You must be logged in to post a comment.