Suurlemoen Meringue Tert

Die tekens van die winter raak al hoe meer sigbaar hier op die plaas. Ons wingerd is goud verkleur en die son vat elke oggend bietjie langer om sy kop uit te steek agter die berge. Hulle voorspel vir komende week ons heel eerste ryp.

Ek en my skoonpa gesels nourie dag oor die geure en kosse wat jy met verskillende seisoene assosieer. Die somer in die Noord-Kaap is druiwe en suikersoet waatlemoen. Herfs is eiervrug in Aubergine Parmigiano & Ratatouili. Dis dieprooi granate en kweper jellie op vars gebakte brood. Dis medjool dadels van êrens langs die Oranje Rivier. Winter is sitrus in al sy glorie. Dit is sterk spesery geure en stadige bredies en soppe en dis kerries met koriander blare as afronding. Die lente is vars en vrolik. Dis vars pestos uit jou eie tuin en kappertjie blomme in jou slaai. En soos my skoonpa sê: ” As jy enige van hierdie in ‘n ander seisoen vir my opdis, smaak dit nie dieselfde nie. Sekere geure hoort net by sekere seisoene”

Ons lemoenbome dra sommer mooi die jaar. En ek word elke week bederf met die lekkerste suurlemoene van ons buurplaas. Die winter is verseker my gunsteling seisoen, en so ook al die geure wat daarmee gepaard gaan. Ek het hierdie week besluit om met die buurplaas se suurlemoene winter in ‘n tert vas te vang – ‘n Suurlemoen Meringue Tert. Hy smaak verseker net anderster lekker as jy die voorreg van vars suurlemoene het.

Daar lê vir ons ‘n koue week voor hier in Suid-Afrika. Die perfekte weer vir tuisgebakte beskuit saam met jou moerkoffie soggens. Of warm pap waarvan die geure die hele huis vul. Probeer gerus ‘n lekker Richmond Rib vir middagete saam met varsgebakte boerbrood! En bak dan ‘n suurlemoen meringue vir terwyl jy in die namiddag son sit en bak en die wonders van die winter geniet.

Ons verwelkom die vinnige aanbreek van die nuwe seisoen en ek sien uit daarna om hierdie week bietjie meer tyd in my kombuis te spandeer….en ook binnekort dan bietjie meer met julle te deel hier uit my plaaskombuis!

Met liefde uit die Boesmanland xxx

Leave a Comment

You must be logged in to post a comment.