‘n Dag van feesvier

En hier slaan dag 7 van #salockdown my ‘n sitskoot. My gemoed is bitter, galbitter. Vandag is ‘n dag van feesvier in ons familie, en ek sit alleen by my huis. Ons vier vandag my Marietjie-sussie se geboorte dag, so ook kleine Amé se geboorte dag. Dit is my pa en Tannie Marinda se 9de huweliksherdenking……en ek wil sing soos Dawid Kramer: “Hier sit ek stoksiel alleen…”

Marietjie stuur foto’s van ‘n vrolike ontbyttafel opgemaak met krismis versierings. Haar onderskrif laat my in my stilligheid glimlag; “Elke huis het ‘n dogtertjie nodig, Anmari was op die versieringskommitee”. Hierdie was altyd my werk in die Nel huishouding, die versieringkommitee. Ek het weke voor ‘n verjaarsdag, moedersdag of Kersdag al begin beplan aan die tafelversierings. Dit was altyd droeë grassade of geroeste blikkies met kant om. En as ek die dag grênd wou wees het ons gesin van 5 selfs naamkaartjies by ons sitplekke gehad. Mooi papier servette was ‘n absolute luuksheid. Kerse ‘n taboe, my pa het gevoel hy wil mos darem sien wat hy eet.

Suné stuur ‘n foto van Amé met die mooiste Ballet rokkie aan, rooi lippe en al. Hulle hou ‘n blomme teepartytjie. Haar gesiggie straal en ek besef dat hierdie tien teen een Amé se beste partytjie ooit sal wees. Pappa, mamma en altwee boeties kuier vrolik saam en gee hulle als om hierdie dag by die huis spesiaal te maak.

My pa en tannie Marinda is doodstil, hulle ontspan sonder selfoon opvangs in die veldhuisie op Makkiesplaas. Saligheid vanself. Hulle kuier vanaand om die houttafel by die gaslamp, moerkoffie in die hand. Dalk selfs ‘n vuurtjie wat knetter in die donkernag.

Ek besef ek is die enigste swartgallige een op hierdie feestelike dag. Ek gaan pluk dus my grootste wortels uit my groente tuin, bak ‘n wortelkoek. Versier hom baldadig met geel blomme van my skorsie ranke. Ek pluk grassade en druk dit in ‘n pot, haal my ma se mooiste ge-erfde koppies uit en hou ‘n teepartytjie vir een (terwyl ek na RSG se boekvoorlesing luister)

Ek dink in die 14 dae wat voorlê gaan nog baie van ons alleen en swartgallig voel. Dan wil ek hê jy moet hierdie onthou: Bederf jouself, doen iets vir jouself, en watookal jy doen – wees grênd en oordadig!

Nataniël het eenkeer gesê: “En al drink jy vanaand net aanmaakkoeldrank, dan drink jy dit uit ‘n wynglas!”

Met liefde uit die Boesmanland xxx

Leave a Comment

You must be logged in to post a comment.