Boerbrood
In Markus 14 lees ons waar die paasmaaltyd voorberei word en waar Jesus die nagmaal instel. Hy het die brood geneem en die seën gevra. Die brood is simboliek vir Sy liggaam. Die brood is heilig. En alhoewel in die Bybel verwys word na ongesuurde brood, is die hele ritueel agter broodbak vir my ook ‘n heilige, genesende proses.
Kort nadat my ma oorlede is het ek begin met ‘n Onthou-Boekie waar ek die dinge neergepen het van haar wat ek nooit wil vergeet nie. Die dinge wat sy gedoen het en ook die maniertjies waarop sy hierdie dinge gedoen het. Onder andere het ek neergeskryf dat sy my nooit leer insuur en boerbrood bak het nie. Dis ‘n ou tradisionele manier van broodbak waar jy nie kitsgis gebruik nie, jy laat die natuur sy eie ding doen!
Ek onthou sy het ‘n spesifieke emmertjie gehad waarin hierdie proses moes gebeur, sy het ook streng weer gekyk om seker te maak die temperature gaan reg wees vir broodbak. Sy het ‘n lappieskombers gehad waarmee sy in die aande die suurdeegplantjie sorgsaam toegevou het en met warmwatersakke in die koelboks laat oornag het. Somtyds het sy so ver gegaan om ‘n Bybelversie by die plantjie in te sit, net om sukses te verseker. Sy het geknie dat ons ou houttafel gekreun het.
Met my baie tyd op hande voel ek braaf en nostalgies en ek verlang! Gistermiddag slaan ek dus my ma se resepteboekie oop om vir die eerste keer hierdie proses op my eie aan te pak. Ek prewel kommentaar aan my ma terwyl ek deur die resep lees, maar bid ook op die ou einde dat sy tog vanaand oor my heel eerste suurdeeg plantjie moet waak. Ek suur 3 uur gistermiddag in en die plantjie word met liefde toegevou in ‘n kombers, binne in ons koelboks. 10 uur suur ons oor in, streng volgens my ma se instruksies. En vanoggend knie ek dat ons klein houttafeltjie kreun.
My ma sê in haar huiskos boekie wat sy vir ons dogters agtergelaat het: “ Ai ek hoop van harte julle knieskottels word geseën, hierdie ou manier van broodbak het my baie lelik laat praat. Onthou net die fout lê nooit by jou nie, dit is altyd die weer of die meel!”
Mamma, vandag het die weer en die meel in my guns gespeel! My man het vir middagete warm brood uit die oond gehad. Met uitgebraaide vet. 14 Jaar was meer as genoeg om die waarde van ‘n vrou by mamma te leer. ‘n Stoere Boervrou uit die Boesmanland. My wens is dat ek altyd met dieselfde liefde en entoesiasme my dagtaak sal aanpak as wat ma gedoen het. Dat ek vele harte sal aanraak met die kos wat ek uit my grootword jare tafel toe bring. En dat ek ALTYD die klein dinge sal onthou wat mamma gedoen het.
Bedien saam met sagtevet en tuisgemaakte konfyt.
Bel vanaand jou ma en sê vir haar jy is lief vir haar. Sy het jou gevorm vir wie jy is. Deel met haar die klein dingetjies wat jy by haar geleer het en skryf dit neer vir anderdag se onthou. Voordat dit te laat is.
Met liefde uit die Boesmanland xxx